tuis en elders, vir mammas en vrouens

Ritme is ons oorgangsbrug

Ritme is ons oorgangsbrug

My gedagtes is mos maar los en vas meeste dae, so kanse is goed dat ek dinge gaan herhaal soos ek blog, want ek kan nie altyd onthou wat het ek al geskryf en wat nog nie.

Maar die ding staan nou so – is nou so ‘n wyle terug wat ek gevoel het ek moet die boeke los en luister na wat die Here sê ek moet doen met die hele huishou & homeschooling ding. (So op ‘n ander noot, maar tog dieselfde – dis nou al jare wat ek wroeg daarmee om selfhelp boeke opsy te sit en net die Bybel te gebruik as verwysing en ‘tool’ en dies meer – en kan ek net sê dis nogals moeilik, mens raak baie verknog aan die gerief van ‘n boek optel en ‘n ‘antwoord’ vind. So dis ook iets wat ek met oorgawe in hierdie jaar aanpak.) Om die Here se stem te hoor is een ding, en sekerlik ‘n topic op sy eie, maar vir die hier en nou kan ek sê dat dit nie vir my so straightforward is nie. Ek is nog baie vol van myself, so ek kan nie met absolute oortuiging sê of ‘wat ek hoor’ nie dalk net my eie begeertes is nie. Hoeditookalsy – dis ‘n awesome journey, en een wat ek glo die Here wil hê al die pad deurgetrek moet word na ons Tuisonderrig, en ons familie ervarings. So ta-ta boekies, ek sien julle ander dag weer…

Ek het toe so ‘n paar dae terug stil geraak hier by my tafel, en gewonder hoe ek nou die ding moet aanpak. Ek kan nie namens ander praat nie, maar my ervaring van kinders en getroud wees en tuisonderrig, was nog nie verskriklik ‘smooth’ nie (ons is nou in ons ‘derde jaar’ van tuisonderrig). Jissie ek maak so baie droog – dis nie eers snaaks nie. En my kinders is moeilik baie keer. Daar is natuurlik ‘n goeie kans dat hulle net ‘n reflection is van my (dis ‘n scary thought), maar daar is ook ‘n goeie kans dat dit deel is van die lewe, want hulle is mense in eie reg, en maak besluite in eie reg, en ons koppe kap maar so kort kort, en deel van my job as ‘n mamma is om hulle te shape en reg te kry vir ‘real life’, wat opsigself nie ‘n maklike taak is nie. Ons het spatsels van lig beleef al sover in ons home schooling journey, maar die canvas is verseker nog nie gevul met ‘n beautiful skildery nie. Dit lyk vir my meer soos die ‘moderne’ kuns wat deesdae orals kop uitsteek wat ek nog nooit myself mee kon vereenselwig het nie, maar waarvan (as jy lank genoeg daarna kyk) jy tog ‘n measure van kreatiwiteit kan sien. Ek glo mens kan altyd oorbegin, altyd weer probeer, maar afhangende van hoe ver van die waarheid jy was in wat jy probeer het, is daar altyd kans dat iets agterweë gebly het, en hurts opgetel is, en skade kon ingesluip het. So dit is in my opinie beter om reg te begin as jy kan. Maar as mens soos ek nou maar net nog nie die ‘knack’ daarvan gekry het nie, glo ek absoluut dat die Here se genade genoeg is om te cover, nog te cover en weer te cover.

Ok, so ek het ervaar dat wat ek moet doen in ons huis in hierdie tyd, is om op drie dinge initially te fokus: Ritme, Reëls en Rolle.

Elke familie of gesin, en so ook elke individu binne daardie familie, het ‘n ritme. Elke dag het ‘n ritme. Elke ‘event’ het ‘n ritme. Kyk – ritme en polsslag (i.e. ‘beat’, ek hoop ek het dit reg vertaal) is nie dieselfde ding nie. Die polsslag oftewel beat, is daardie slag wat konstant bly in ‘n liedjie, dis soos die hart klop, die horlosie se getik. Dis wat jou voet op ‘tik tik tik’ terwyl musiek speel, en dis die polsslag wat jy uit klap met jou hande. Ritme is die note, dit wat saam met die woorde gaan. Dis die musiek. Dit verander deurlopend.

So in ‘n familie is die polsslag daardie konstante iets wat amper half die ‘backbone’ van die familie is. Vir my is dit byvoorbeeld God en Sy Woord (en ek wil bitter vinnig net byvoeg, ons het nog nie arriveer nie). Ek dink elkeen van my kinders het hul eie ‘beat’ en ek ook. Maar die ritme is ‘n manier van dinge doen, ‘n vloei as mens dit so kan stel, wat saam met die dag en die kinders en die familie gaan. My gevoel tans is dat deel van my journey is om ons ritme en polsslag te vind. Ek reken hierdie ritme gaan so met die tyd verander soos ons groei en verander, en ook soos ons dae en verantwoordelikhede en ons omstandighede verander. Ek vermoed die polsslag vir elkeen gaan pretty much dieselfde wees vir die res van ons lewens – maar dit sal ek ook nog sien soos die tyd aangaan.

Ok – so terug by my identifisering van ritme in ons huis: Huidiglik gaan my jongste rondom 11uur slaap. En almal (kinders) word so min of meer 7am in die oggend wakker. So dis waarmee ek werk. Ek wil hê my kinders moet 7pm gaan slaap, so ek  het ‘n 12 uur dag waarbinne ons kan woeker, en wat as ek dit in 3 blokke in deel, vir my 4 uur stretches gee: 7 tot 11, 11 tot 3 en dan 3 tot 7.

Ek het die konsep aan my kinders Saterdag middag verduidelik. Ons het gesit met ‘n getekende horlosie en met lego blokkies. Hulle moes tel hoeveel ure daar is, en toe 12 lego blokkies uittel. Daarna het ons die lego blokkies verdeel in kleure, en vir elke 4-uur blok ‘n kleur gekies. Ek het die lego blokkies per kleur uitgepak en ons het weer getel hoeveel in elke segment is.

Toe het ek verduidelik dat elke segment ‘n spesifieke ‘area’ gaan aanspreek. Die eerste blok van 7 tot 11 is ons lewensvaardighede segment. Hier maak ons aankant, maak skoon, maak kos, trek klere aan, help vir mamma, ens. Die tweede segment is van 11 tot 3. Dit is wanneer die sussie gaan slaap en ons werk aan Lees, Skryf, Wiskunde en Eenheid studies (so dis ons offisiele ‘homeschooling blok’. Die laaste segment is van 3pm tot 7pm, en dit is ons Aktiwiteite (dus ballet, kuns, sokker), en Vry speel deel. Dit sluit ook aandete in. Ek het verduidelik dat die dele soms effe gaan oorvleuel maar dat dit min of meer in daardie blok gaan bly. Laastens het ons toe gekyk na die dae van die week, en het ek hulle gewys op watter dae dinge presies so werk en watter nie. Ons Maandae, Woensdae, Vrydae en Saterdae lyk net so. Dinsdae en Donderdae doen ons nie Tuisonderrig nie – Op ‘n Dinsdag oggend kom ons maats kuier in ons tuisonderrig blok, en op ‘n Donderdag ry ons rond, doen inkopies en het ons kuns en sokker op een dag. Sondae is ons familie dae en gaan ons saam met pappa uit vir die dag, want die res van die tyd sien die kinders hom nie agv sy lang werksure.

Almal het dit met groot excitement ontvang – jippie!!

Tot vanoggend. (Ons eerste Maandag oggend).

Ag en toe besef ek net weereens dat verandering nie maklik kom nie. Ons het vir hoe lank soggens opgestaan, beddens opgemaak en ontbyt geeet, en dan gespeel, speel, speel. Tussendeur het ons bietjies Homeschool goed gedoen, maar geen dag was dieselfde nie, en dit was nogals baie beinvloed deur die emosies van myself en die kinders en whatever ons op daardie dag aangehad het, en wat ek baie maal eers van onthou het wanneer die dag reeds in volle swang was.

So om nou skielik dit wat op papier is te doen is nogals ‘n challenge. So was dit dan dat ek 2 ure into ons ‘nuwe program’ vir eers moed opgegee het, en besluit het om te begin blog oor hierdie tameletjie wat ons gestrike het. Ons het laat wakker geword, want ons het laat gaan slaap en ek het min geslaap in die nag. Ons ‘landlord’ het geskakel om opmetings te vra vir nuwe geute wat hy wil aansit, en soos dit ‘n goeie tuisonderrig mamma betaam, het ek die kinders probeer inspan om my te help om die afstand af te tree en neer te skryf sodat ek vir die Oom ‘n beraming kon gee. Die voorstel was begroet met ‘n lang gesiggie en ‘n neulery, en die 6 jarige kindertjie wat met ‘n halwe oor luister terwyl hy verder lees, en die jongste twee wat die oomblik toe die deur oopgaan jubelend uithardloop na hul nuutgevonde vryheid in die tuin.

Ag nou ja – toe tree ek maar self af, terwyl juffrou 8-jaar oud (ousus) lang tand saam loop, en die ander rondom ons baljaar. Ten minste kon ek die konsep verduidelik terwyl ek nog almal se aandag gehad het.

Ek reken geensins daar is iets fout met hierdie ‘ritme’ wat ek wil inbring nie – ek dink dit is goed en reg. Ek dink ons dissipline in die huis, en my ability om dinge lekker oor te dra aan my kids met genoegsame excitement sodat hulle ook jubel en juig daaroor, is nog ‘lacking’. Maar dis ok!! Want ousus het vanoggend die hawermout pap gemaak en gesorg dat almal eet (ek het ‘n happie geproe en sy maak dit lekkerder as ek), en die beddens is opgemaak, en jongste het ‘n ‘ball’ daar buite in die tuin, en die twee seuns hou mekaar besig. Ousus het intussen besluit sy gaan die geld-blikkie se kontant tel, en ek hoor hoe gesels sy daarbinne, en figure dit uit, en toe ek inglip daar, kon ek haar help met hoe om dit makliker en vinniger te doen deur hopies te maak. Haar tel was akkuraat, en uit die kop en ek is trots op wat sy sommer so self gedoen het. (Dit was R123.55 se muntstukke – niks note nie, en net een R5 tussen-in). Welgedaan sussie.

En so was dit dan nou ook dat ons 20 minute weg was van ons volgende blok af, wanneer kleinste gaan slaap en ek met die kids meer formeel moet begin werk. En die huis was nog net so deurmekaar, en die skottelgoed het steeds ‘n myl hoog gestaan en vliee gelok, en die wasgoed was nog nie eers een bondel gewas nie, en al my goeie intentions het eintlik nog tot niks gekom nie, maar dit was ook ok. Vandag was nog nie klaar nie, en more het ‘n nuwe dag voor gelê vir weer probeer, totdat ons dit als onder die knie het. Ek het weer ‘n keer so stilweg vir die Here dankie gesê dat Hy my vry maak van my ‘need’ om in beheer te wees, en alles presies reg en skoon en netjies te hê alvorens ek iets anders aanpak. Jis, HY is darem net amazing.

Die namiddag het in ‘n vlaag verbygegaan. Iewers het ons gelees en wiskunde ook ingepas. Die kinders was teen 8pm almal in die bed en die huis stil. Ek het egter nog ‘n goeie klompie ure skoongemaak en vloere gewas en goed uitsorteer terwyl ek vir my man gewag het om huis toe te kom (onthou, hy werk mos insane ure tans) – maar toe ek finally in my bed neersak was ek dankbaar vir nog ‘n wonderlike dag wat die Here my gegee het. Sjoe, Sy genade vul my net op en op. Ek is excited oor die nuwe dag wat voorlê.  Ek gaan heel moontlik nie volgens my ‘skedule’ opstaan nie, en gaan seker ‘n rukkie vat om aan die gang te kom, maar die huis is relatief presentable, en ek behoort selfs ‘n wasgoed bondel in te kry voor die maats kom. Geen skedule moet so vas wees dat mens nie kan afwyk daarvan nie, en ‘n ritme is net dit, ‘n ritme. Party dae gaan dit sekerlik bietjies vinniger gaan as ander, soms stadiger, soms met ‘n hik en ‘n shuffle – maar dis nie die wet nie en ook nie die einde van die wêreld as dinge nie presies presies reg verloop nie. Dit laat my nogals dink aan ‘n dans, aan die begin sukkel dit dalk ‘n bietjies, maar wanneer mens dit regkry is dit nie net heerlik om deel te neem nie maar ook wonderlik om te aanskou.



Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *